Share

Deurtrek van gesondheid

Tee is al lank een van ons sosiale rituele. Tog dink ons maar min aan die geneeskrag van een van die wêreld se oudste en gewildste drankies.
Deur KATE SCHRIRE vir Huisgenoot-POLS

Soet en swart, in fyn versierde glase geskink. Dis hoe mense in Noord-Afrika tee drink – daar waar hulle glo dié warm drankie hou die liggaam koel in die versengende hitte. In China word aromatise groentee al meer as 4 000 jaar lank as 'n geneesmiddel gebruik. En in Japan het hulle 'n hele seremonie oor hoe om tee voor te berei en te geniet – hulle glo dit balanseer liggaam en gees.

Daar is baie geleenthede, en net soveel redes, om tee heeldag te geniet. Dit maak nie saak of jy 'n versterkende pot swart tee met ontbyt kies, of 'n vertroostende koppie rooibos wanneer jy gedaan is nie – daar is 'n tee so reg na jou smaak.

Soorte tee
Alle tradisionele teeblare kom van die Camellia sinensis-plant. Dit is oorspronklik van China, maar word tans in lande so ver uiteen soos Japan, Kenia en Indië gekweek. Tradisionele tee word onderskei na gelang van die verwerkingsproses.

Daar is drie hoofsoorte: groen, woeloeng- (oolong in Engels) en swart tee. Groen teeblare word gedroog net nadat dit geoes is; swart teeblare word verlep, dan geoksideer (bekend as gisting) en dan gedroog, en woeloeng-teeblare word net deels geoksideer voor dit gedroog word.

Tee word dikwels genoem na die streek waar dit gekweek word, soos Ceylon of Darjeeling.

Natuurlik heilsaam
"Tee kan deel van die meeste gesonde eetplanne uitmaak," sê Karlien Smit, 'n dieetkundige by Shelly Meltzer en Vennote, wat dieetkundige dienste aan die Sportwetenskapinstituut van Suid-Afrika lewer. Volgens haar kan tot vier koppies tradisionele tee – swart, groen of woeloeng-tee – per dag gesondheidsvoordele inhou.

Die meeste navorsing word toegespits op die eienskappe van swart en groen tee, maar al drie teesoorte bevat baie soortgelyke voedingstowwe, hoewel in verskillende hoeveelhede na gelang van hul vlak van oksidasie.

Almal bevat aminosure, minerale soos fluoried, en belangrike antioksidante. Antioksidante slaan vrye radikale hok wat liggaamselle beskadig. Daar is bewyse dat die antioksidante in tee slegte cholesterol laat afneem en bloedvate laat ontspan; gevolglik neem die gevaar van hartsiekte en beroerte ook af.

Die antioksidante in tee het ook antiseptiese, anti-inflammatoriese, swam- en kankerwerende en anti-allergiese eienskappe. Hoewel groen tee die meeste antioksidante bevat, moet 'n mens nie dink swart tee is sonder gesondheidsvoordele nie.

Studies het bewys dat mense wat gereeld swart tee drink meer as vyf keer meer antibakteriële, immuunversterkende proteïene in hul bloed het as dié wat koffie bo tee verkies. Hulle het ook 'n laer streshormoonvlak ná spanningsvolle gebeurtenisse. Daarby beveg swart tee die ontwikkeling van plaak op jou tande en die bakterieë wat jou asem sleg laat ruik.

Wyse raad
Terwyl 'n koppie swart tee min of meer die helfte van die kafeïen van 'n koppie koffie bevat, en groentee net 'n derde, moet mense wat sensitief is vir kafeïen tee matig geniet. Kafeïenvrye tee word nie aanbeveel nie omdat die verwerking daarvan baie van die voedingstowwe saam met die kafeïen verwyder.

Maar selfs al kan gekonsentreerde kafeïen die liggaam laat ontwater, is die hoeveelhede so klein in vergelyking met die water wat jy so inkry, dat tee steeds beskou kan word as 'n goeie manier om genoeg water in te neem.

Baie van die goeie antioksidante in tee is tanniene, wat tee sy effense suur nasmaak gee. Tannien kan ongelukkig die liggaam se opname van yster aan bande lê. Daarom moet mense wat bloedarmoedig is nie tee saam met hul maaltye drink nie om hul liggaam die kans te gee om soveel yster moontlik uit kos te onttrek.

En al verminder swart tee plaak, kan dit jou tande vlek. Dit hoef egter nie 'n probleem te wees as jy 'n mondhigiënis gereeld besoek nie.

Die volmaakte koppie
Ming Wei, gesaghebbende teehandelaar by Origin Coffee Roasting in Kaapstad, glo die kuns van tee lê in die maak daarvan. Volgens hom verg elke teesoort 'n ander temperatuur en trektyd om sy volle geur en potensiaal te ontsluit.

Swart tee moet net onder kookpunt, teen 90 tot 95°C, vir drie tot vyf minute getrek word. Woeloeng vaar die beste in water van 90 tot 100°C vir een tot drie minute, en groentee het water van 60 tot 80°C nodig vir een tot twee minute.

Ming sê om kookwater te gebruik om delikate groen teeblare mee te trek, sal wees "soos om vars slaaiblare met warm water af te spoel". En vir swart tee verseker drie tot vyf minute trektyd die meeste geur en die hoogste antioksidantvlak, sê Karlien Smit.

Ming verkies om los, heel blare te gebruik om mee tee te maak, want gewoonlik word dit versigtiger verwerk. Teesakkies van 'n hoë gehalte is 'n gerieflike alternatief.

Daar is nog nie eenstemmigheid oor die vraag of melk die voedingstowwe in tee beïnvloed nie. Ming stel voor dat dit onversoet en sonder melk gedrink word om "die subtiliteit van die tee se geur na vore te bring".

Karlien sê ook: "Om suiker, volroommelk of niesuiwel-verromer by te voeg, beteken meer kilojoules en kan jou gewig laat aansit. En moenie dink heuning is beter nie; dit het omtrent net soveel kilojoules as suiker. As jy dus jou heupmaat dophou, beperk albei."

Ons eie kruiewonders
Tisanes of aftreksels, ook bekend as kruietees, word gemaak deur droë of vars kruie in warm water te laat trek. Hoewel dit nie blare van die teeplant bevat nie en daarom tegnies nie as tee beskou kan word nie, word dit dikwels pleks van tradisionele tees gedrink.

Twee plaaslike kruietees wat wêreldwyd ál gewilder word, is rooi- en heuningbos. Rooibos (Aspalatus linearis), wat net in die Sederberg gekweek word, word al geslagte lank deur Suid-Afrikaners geniet. Heuningbos kom van die Cyclopia-plantspesie en word oral in die Kaap aangetref. Soos swart en woeloeng-tee word heuningbos- en rooibosblare gesny en laat oksideer voor dit gedroog en as tee ingespan word.

Heuningbos is deur die Khoisan gebruik om hoes mee te behandel. Ons weet vandag dit bevat pinitol, 'n natuurlike hoesmiddel wat die liggaam help om van slym ontslae te raak. Navorsing het bewys dat pinitol ook bloedsuiker kan help reguleer, wat goed is vir diabete en mense wat hul energievlak konstant wil hou.

Heuningbos bevat ook baie kragtige antioksidante wat vermoedelik die gevaar van hartbloedvatsiekte verminder deur cholesterol te verlaag. Dit kan ook menopousale simptome, soos lae beendigtheid by ouer vroue, teenwerk. Uit sommige studies blyk dit dat dié antioksidante jou selfs teen sekere soorte kanker kan beskerm.

Rooibos bevat antioksidante wat antibakteriële, swam- en kankerwerende en anti-inflammatoriese eienskappe het. Rooibos bevat ook antioksidante wat blykbaar krampwerend is, dié dat so baie ma's vas glo rooibos help hul baba se koliek in toom hou.

Sowel rooi- as heuningbos bevat min kafeïen, wat dit 'n goeie keuse maak vir mense wat sensitief is vir kafeïen, kinders inkluis.

"Maar tee moet nooit voedingstofryke vloeistowwe soos melk vervang nie, veral nie by jong kinders of dié wat tingerig is nie," waarsku Karlien Smit. Rooi- en heuningbos bevat min tannien, maar baie voedingstowwe soos kalium, yster, sink en magnesium. Albei het 'n goeie vitamien C inhoud.

Om alles te kroon, kon navorsers nog geen newe-effekte van dié twee kruietees opspoor nie.

Ming sê kruietees kan hoër temperature en langer trektye beter weerstaan as tradisionele tees. Laat trek die blare vir vier tot sewe minute in water wat pas gekook het. En terwyl Suid-Afrikaners daarvan hou om melk en suiker by hul rooibos te voeg, geld dieselfde reël as vir tradisionele tee: hou jou kilojoule-inname dop.

Watter tee, wanneer?

  • Opstaantyd: Swart tee – drink 'n slag 'n ontbytmengsel.
  • As 'n namiddag-opkikkertjie: Woeloeng- of aromatiese groen tee.
  • Voor jy gaan slaap: Rooi- of heuningbos laat jou rustig aan die slaap raak. Kamilletee laat jou glo ook ontspan.
  • Wanneer jy afgemat voel: Groentee of heuningbos. Wanneer jou keel seer is, kan jy 'n bietjie heuning, wat sy eie antiseptiese eienskappe het, daarby voeg. 'n Skyfie vars gemmer kalmeer 'n omgekrapte maag en 'n skyfie suurlemoen verskaf die noodsaaklike vitamien C.
  • Wanneer jy gespanne voel: Swart tee of rooibos.
  • Vir die skoolkosblik: Verdun jou kind se gunsteling-vrugtesap met 'n koppie kruietee wat elke oggend vars gemaak word om soveel moontlik voedingstowwe te bewaar. Voeg ysblokkies by om dit mee af te koel. Meng rooibos en lemoen- of bosbessiesap, en heuningbos met bessie- of appelsap.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE