Share

Burgers sonder die boep

Wegneemetes is daar om tyd en geld te spaar, maar dis gewoonlik jou gesondheid en middellyf wat die prys betaal. Nie meer nie! Ons wys jou die gesondste opsies op die kitskos-spyskaart.
Deur CELESTE NAUDE vir Huisgenoot-POLS

Om kitskos te eet, kan 'n vinnige manier wees om vet te word en jou liggaam met ongesonde vette, sout en preserveermiddels te oorlaai.

'n Supergroot burger met al die ekstras plus 'n groot porsie slaptjips en 'n groot versoete koeldrank bevat omtrent 5 000kJ en 50g vet – partykeer selfs meer, afhangende van jou keuse. Een enkele kitsmaal kan meer as die helfte van die kilojoules verskaf wat 'n gewone onaktiewe volwassene per dag nodig het.

Veral kinders is gaande oor kitskos en 'n mens kan dit op die skaal sien. 'n Studie deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad het bevind dat byna 'n kwart van kinders tussen die ouderdom van een en nege oorgewig is.

Te veel kafkos gaan gewoonlik gepaard met swak eetgewoontes, groter gewigstoename en 'n hoër risiko om chroniese leefstylsiektes soos tipe 2-diabetes en hartsiektes te ontwikkel.

Maar deur slim te bestel, kan jy die kilojoule- en vetinhoud van kitskos met die helfte verminder en seker maak dat jou maaltyd 'n gesonde een is. Hier is ons gids vir die top-wegneemkeuses.

Nando's
Jou gesondste keuses: 'n Standaardgrootte hoenderburger (1 584kJ), pynappelburger (1 587kJ), vegetariese burgers(1 935kJ), hoenderrepies met rys (1 594kJ), beesvleis- of hoender-prego (1 419kJ), hoender-steak (992kJ) en byna al die ander hoender-opsies.
As bykosse is die slaai, vlamgeroosterde mielie of gekruide rys laag in energie en vet en kan jy die tjips daarmee vervang om jou maaltyd af te rond.
Hoekom? Omdat Nando's se hoender in die vlamme gerooster en nie in olie gebraai word nie, bevat dit minder vet as diepgebraaide hoender. Afgesien van die gesonde gaarmaakproses sal minder bykosse hierdie maaltye se energie-, totale vet- en versadigde vetinhoud verlaag, wat beteken dat dit 'n goeie keuse is vir gewigsverlies en 'n gesonde hart. By Nando's kan jy hoenderporsies sonder vel kies, asook 'n laevet-mayonnaise vir mense wat gewig wil afskud.
Ligloop vir orgaanvleis (giblets), voorgesit met gekruide rys en 'n Portugese broodrolletjie (4 035kJ).
Hoekom? Orgaanvleis is gepak met kilojoules, totale vet, versadigde vet en sout. Wanneer jy dit eet, kry jy omtrent driekwart van jou totale daaglikse kilojoule-inname op een slag in.

Wimpy
Jou gesondste keuses: Wimpy Chicken Fillet Burger (1 723kJ) en Wimpy Burger (1 760kJ)
Hoekom? Kleiner porsies maak dit laer in kilojoules en vet in vergelyking met die dubbel-burgers met hoëvet-ekstras.
Ligloop vir die Wimpy Double Burger met kaas en spek (3 651kJ) en die Wimpy Burger met kaas, spek en aartappelkoekies (3 746kJ).
Hoekom? Supergrootte-porsies met baie hoëvet-ekstras beteken dat hierdie opsies baie meer kilojoules en versadigde vette bevat.

Steers
Jou gesondste keuses Rave Burger (1 200kJ*) en hoender in pita (sonder mayonnaise) (1 900kJ*)
Hoekom? Die burger is 'n kleiner porsie en die pita het minder ekstras, dus minder kilojoules en vet.
Ligloop vir die Triple Stack Burger (3 700kJ*) en die Dagwood Burger (3 500kJ*).
Hoekom? Supergroot porsies met baie ekstras maak dit hoog in kilojoules en vet. Die beesvleis-, spek-, kaas- en eierkombinasies jaag die versadigdevetinhoud op.

McDonald's
Jou gesondste keuses: Die gewone hamburger (1 116kJ) en Fillet-o-Fish Burger (1 608kJ)
Hoekom? Kleiner porsie en minder kilojoules
Ligloop vir die Quarter Pounder Deluxe (2 347kJ), Quarter Pounder Cheese (2 187kJ), Big Mac (2 340kJ) en die Chicken Foldover (2 449kJ).
Hoekom? Groot porsies en omtrent 50% van die energie is van vet afkomstig. Alles behalwe die Foldover is hoog in versadigde vet.

KFC
Jou gesondste keuses: Grilled Original Recipe Burger (1 378kJ) of Grilled Mini Twister (789kJ)
Hoekom? Die porsies geroosterde hoender bevat minder kilojoules en minder vet as die gewone burgers en Twisters.
Ligloop vir die Double Crunch Burger (3 500kJ*).
Hoekom? Hierdie supergroot porsie is hoog in kilojoules en vet as gevolg van die deeg op die twee hoendervleiskoekies wat in diep olie gebraai word en die ekstra skywe kaas.

Gesonde wegneemwenke

  • Gerooster is goed.
  • Trek jou neus waar moontlik op vir die gebraaide opsies. Kos absorbeer groot hoeveelhede olie wanneer dit diepgebraai word, veral wanneer dit met deeg bedek is. As die olie herhaaldelik verhit word, kan dit lei tot die vorming van gevaarlike vette.
    Deur gerooster te kies, kan jy hope energie en ongesonde vette uitskakel. 'n Diepgebraaide porsie hoender met deeg kan meer as twee keer die aantal kilojoules as die geroosterde, vellose weergawe bevat. In die diepgebraaide deegporsie is meer as 50% van die totale aantal kilojoules van vet afkomstig.
  • Weg met die slaptjips.
  • Ruil die tjips in 'n maaltyd om vir 'n groot vars slaai (sonder slaaisous of kaas) – so skakel jy sowat 1 000kJ en 13g vet uit jou maaltyd en voeg boonop vitamiene, minerale en vesel by.
  • Soek die slaai.
  • Bestel 'n vars groenslaai as 'n bykos en as jy slaai as 'n hoofgereg bestel, kies een met óf kaas óf vleis. Dit bevat sowat 900 tot 1 200kJ per porsie. Wanneer kaas, hoëvet-slaaisous en croûtons by slaai gevoeg word, verhoog dit die kilojoule-inhoud aansienlik.
  • Pasop vir porsies.
  • Hou 'n ogie oor porsiegroottes en probeer om nie meer te eet as tuis nie. Moenie die supergrootte- items op die spyskaart kies nie: Op die ou end kan dit maklik dubbel die grootte van die gewone maaltyd wees.
    'n Ekstra-groot versoete koeldrank en skyfies bevat min of meer 3 400kJ en 18g vet, wat amper drie keer soveel is as die gewone groottes (1 300kJ, 8g vet). Hou dus liewer by die gewone porsies. Jy kan selfs een van die kinderopsies kies.
  • Stadig met die sout.
  • Kies geregte met 'n lae soutinhoud, veral as jy aan hoë bloeddruk ly. Dink twee keer voor jy ekstra sout oor jou slaptjips strooi.
  • Sous-sondaars.
  • Moet jou nie flous en die bygevoegde sampioensous as 'n groenteporsie beskou nie. Ekstra souse is dikwels gelaai met kilojoules en 'n burger wat swem in die sous is 'n dieet-katastrofe.
    As jy besluit jy wil 'n sous hê, bestel dit apart sodat jy die hoeveelheid wat jy eet, kan beheer. Jy kan ook 'n sous met minder vet, soos soet-brandrissie, bestel.
  • Voedingswaarde-vernuf.
  • Lees vinnig deur die voedingsinligting oor die spyskaart-items voor jy jou keuse maak. Hierdie inligting word tans deur party ketting-restaurante voorsien. Neem kennis van die kilojoules, vet en versadigde vet per porsie – hoe laer, hoe beter. Party kitskos-plekke voorsien die voedingsinligting per 100g, wat misleidend kan wees.
    'n Burger bevat dalk 980kJ per 100g, maar as die porsie 250g is, styg die totale kilojoule-telling natuurlik tot 2 450kJ.
  • Dieetdrankies.
  • Koeldranke kan baie suiker bevat, dus is dit beter om hulle heeltemal te vermy of die kunsmatig-versoete weergawe wat amper geen kilojoules bevat nie, te kies. Vrugtesappe is 'n gesonder keuse, maar sekere versoete vrugtesappe is hoog in energie en bevat meer as 200kJ per 100ml.
    Kry liewer die voedingstowwe in deur die hele vrug vir nagereg te eet. Dit laat jou voller voel en bevat meer dieetvesel, wat 'n verlaagde risiko vir hartsiektes kan inhou.
  • Kettingreaksie.
  • Nuwe gesondheidsbewuste kettingrestaurante met geriefskos en wegneemetes soos Kauai, Osumo en Ecco het die laaste jare verskyn, wat dit nou selfs makliker maak om op 'n drafstap 'n gesonder maal te eet.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

How to eat well on the run
Fast food without the fat

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE