Share

Bly slank hierdie winter: 6 aanpassings

Implementeer hierdie ses veranderinge en jy sal nie tussen Junie en September gewig aansit nie – om die waarheid te sê, kan jy tot 20kg voor die lente verloor, afhangende van hoe sleg jou huidige gewoontes is.

Ons weet dat wanneer die temperatuur daal, ons gewig presies die teenoorgestelde doen. Namate ons weglê aan pastye en bredies om die winterkoue teen te werk, maak ons ook seker dat daar 'n ekstra vetlagie tussen ons en die koue is. En wanneer dit buite mislik en koud is, wil niemand van die rusbank af opstaan om oefening te doen nie.

Die vermindering van fisiese aktiwiteit en 'n winter-dieet met swaar, vetterige kos is die twee hoofredes hoekom mense in die winter gewig aansit. So, hoe verhoed ons dat ons so swaar soos ons gunsteling winterkos word? 

VERANDERING 1: KIES DIE VRUGTE EN LOS DIE NAGEREG

Wintervrugte soos lemoene, pomelo's, nartjies, papaja, kiwivrugte en koejawels is propvol beskermende voedingstowwe soos vitamien C en bioflavonoïede om te help om winterverkoues en -griep af te weer – en boonop bevat hulle min kilojoules.

Probeer om een van hierdie vrugte saam met elke maaltyd te eet om jou vol te maak en jou immuunstelsel 'n hupstoot te gee.

Die verskil

As jy net vyf porsies vrugte per week eet (meer is selfs beter) in plaas van nagereg of 100g sjokolade sal jy nie 'n gram aansit nie. As jy altyd ten minste drie keer per week nagereg, koek en sjokolade geëet het, sal jou nuwe gewoonte jou help om binne drie maande tot 5kg af te skud.

VERANDERING 2: KIES LAE-KILOJOULE SOP EN BREDIES

Die winter is die beste tyd om sop te eet, wat voedsaam kan wees sonder dat dit jou kilojoule-inname verhoog. Die eenvoudigste soppe kan met 'n verskeidenheid groente en beesvleis- of hoenderaftreksel gekook word. Gebruik lae kilojoule aftrekselblokkies of maak jou eie aftreksel van hoender of beesvleis. Laat dit in die yskas afkoel en skep die vet wat bo-op hard word, af.

Gebruik vetvrye melk om groenteroomsop te maak en voeg vetvrye joghurt in plaas van room by. Berei die dag vantevore jou sop of bredie voor, laat dit in die yskas afkoel en skep die soliede vet af voordat jy dit warm maak. Vir elke teelepel vet wat jy verwyder, skakel jy byna 200kJ uit. Bedien groentesop met bros volgraanbrood vir 'n heerlike, voedsame nie-vetmakende maaltyd wat jou ure lank versadig en lekker warm sal hou.

Die verskil

Probeer om hierdie winter elke dag lae-kilojoule sop as een van jou hoofmaaltye te eet. Onthou om die vet van jou bredies af te skep. So sal jy nie gewig aansit nie; jy mag selfs tot 3kg in drie maande afskud.

VERANDERING 3: SKAKEL OOR NA VETVRYE SUIWELPRODUKTE

Navorsing toon dat om meer vetvrye of laevet suiwelprodukte te eet jou kan help om gewig te verloor. As jy vetvrye melk vir warm drankies soos Milo gebruik, sal jy nie gewig aansit nie.

Die verskil

As jy volroommelk met afgeroomde (vetvrye) of laevet (2%) melk vervang, laevet joghurt en -maaskaas in plaas van die volroom weergawes gebruik en nie meer as drie porsies suiwelprodukte per dag eet nie (drie glase melk of drie klein bakkies joghurt of drie vuurhoutjiedosie-grootte porsies maaskaas) kan jy binne drie maande tussen 2 en 4kg verloor. Hoeveel jy verloor, sal afhang van of jy vetvrye of laevet suiwelprodukte kies.

VERANDERING 4: PROBEER NIE-VOEDSAME VERSOETERS

In plaas daarvan om twee of drie teelepels suiker by jou warm drankies te voeg, gebruik kunsmatige of nie-voedsame versoeters. As jy vyf warm drankies per dag drink, sal jy tussen 800 en 1,200kJ bespaar.

Die verskil

Jy sal binne drie maande tussen 2 en 3kg verloor.

VERANDERING 5: STADIG MET DIE PASTEITJIES, SLAPTJIPS EN SOETGEBAK

Wanneer dit koud buite is, is dit lekker om aan worsrolletjies, samoesas, soetgebak, slaptjips of hoender-kitskos te peusel. Om warm kos te eet, is nou maar net vertroostend.

Die verskil

As jy hierdie winter kan wegbly van hierdie kos, staan jy 'n goeie kans om nie gewig aan te sit nie. En as jy gewoonlik elke dag ’n pasteitjie en 'n pakkie slaptjips eet, sal jou nuwe gewoonte jou help om binne drie maande tot 5kg af te skud.

VERANDERING 6: WEES AKTIEF

Neem 'n daadwerklike besluit om hierdie winter meer aktief te wees. Gaan stap wanneer die son skyn; sluit by 'n gym aan; gaan dans; neem Pilates of joga klasse; of oefen by die huis. Na 10 minute sal jy lekker warm en gesond voel. Om aktief te wees, help ook om neerslagtigheid te beveg.

Die verskil

As jy jou somerroetine voortsit, sal jy nie gewig aansit nie. As jy tot nou toe 'n stoelpatat was, sal jy gewig verloor as jy begin oefen. As jy vir drie maande, vyf of ses dae per week, vir 30 minute per dag vinnig stap sal jy binne drie maande tot 1.5kg verloor. As jy drie keer per week spieroefeningsessies by jou roetine voeg, kan jy binne drie maande 3kg verloor.

Vinnige feit: As jy gedurende die winter depressief voel, reageer jou liggaam deur meer serotonien, die "vrolike hormoon" te produseer. Een van die maniere hoe die liggaam probeer om serotonienproduksie op te stoot, is om jou behoefte aan koolhidrate te verhoog. Ongelukkig het baie koolhidraatvoedsel soos tjips, koek, pasteitjies en sjokolade ook 'n hoë vetinhoud. As jy baie van hierdie voedsel eet omdat jy 'n behoefte aan meer koolhidrate het, sal jy waarskynlik gewig aansit.

(Dr. IV van Heerden/DietDoc, Health24, hersien Julie 2011)

Hierdie artikel het aanvanklik in die YOU Pulse/Huisgenoot-Pols tydskrif verskyn. Die huidige uitgawe is tans op die rakke.

Enige vrae? Vra vir DietDoc

Lees verder:

Voedsel wat die kilo's weghou
Eet reg en bly gesond hierdie winter
Gesonde winter-eetgewoontes in ’n kits

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE