Share

10 soorte kos wat spanning verlig

Sukkel jy om die mas op te kom? Wanneer dinge dreig om hand uit te ruk, is dit maklik om jou liggaam met gemorskos te verwaarloos of op 'n drafstap sommer iets af te sluk. Wanneer jy onder druk verkeer, het jou liggaam egter meer as ooit al die belangrike minerale en vitamiene nodig om op sy beste te funksioneer. Eet jou stres (letterlik) weg met hierdie tien kosse. Dit sal nie net jou algemene energievlakke verhoog en jou help om koel en kalm te bly nie; hierdie kosse sal ook die skadelike uitwerking van stres op jou liggaam teëwerk.

1) Piesangs

Piesangs is vol kalium, 'n mineraal wat kan help om spanning te verlig. Piesangs help ook om die verstand te kalmeer en te streel omdat dit baie triptofaan bevat, 'n aminosuur wat die vervaardiging van serotonien (die lekker-voel hormoon) en melatonien (die slaap-hormoon) stimuleer.

2) Spinasie en brokkoli

Donkergroen groente soos spinasie en broccoli is vol vitamiene wat help om ons liggame ten tye van stres te beskerm. Beide spinasie en brokkoli is baie goeie bronne van magnesium, 'n mineraal wat help om jou stresvlakke te verlaag deur jou kalm te hou. Hierdie groente bevat ook baie kalmerende B vitamiene, veral foliensuur wat help om stres, angs, paniek en selfs depressie te verlig.

3) Melk en joghurt

Melk en joghurt het 'n baie hoë kalsium- en vitamien B-inhoud wat help om jou bene te bou en noodsaaklik is vir senuweegesondheid. Dit bevat ook die bui-stabiliseerder triptofaan wat help om jou gemoed te kalmeer – dit verduidelik hoekom party mense graag 'n glas melk drink voor hulle gaan slaap.

4) Vis

Vis soos tuna en makriel is propvol omega-3 vetsure wat keer dat jou adrenalienvlakke buite beheer raak en jou ook teen hartsiekte, wat dikwels aan stresvlakke gekoppel word, te beskerm. Vis is 'n belangrike bron van B-vitamiene, veral die stres-beheerders B6 en B12, wat ook help met die produksie van serotonien, die "gelukkige" breinhormoon. Vis bevat ook cholien (nog 'n B-kompleks vitamien), 'n uitstekende geheueversterker.

5) Neute

Neute is wonderlike stresverligters. Neute is 'n ryk bron van die serotonienversterker triptofaan en ook vol B-vitamiene, vitamien E, magnesium en sink. Die B-vitamiene en magnesium reguleer die gemoed en verlig stres deur serotonienvlakke te verhoog, terwyl sink ook party van die negatiewe effekte van stres beveg. Vitamien E is 'n belangrike anti-oksidant wat die vrye radikale wat by stres en hartsiektes betrokke is, vernietig.

6) Bloubessies

Bloubessies is vol antioksidante, veral vitamien C. Dit gee die liggaam ekstra reserwes wat help om hoë stresvlakke te hanteer. Antioksidante beveg vrye radikale wat liggaamselle beskadig en help ook om jou liggaam te herstel en teen die gevolge van stres te beskerm.

7) Kalkoen en hoender

Kalkoen en hoender is uitstekende bronne van die aminosuur triptofaan wat help om jou gemoed te kalmeer en jou bui te verbeter. Dit verduidelik hoekom baie mense so ontspanne en selfs vaak voel nadat hulle hoender of kalkoen geëet het. Kalkoen is ook 'n uitstekende bron van proteïne wat help om bloedsuikervlakke stabiel te hou en sodoende stresvlakke te verlaag.

8) Lemoene

Lemoene en ander sitrusvrugte is bekend vir hulle hoë vitamien C vlakke. Aangesien jou liggaam nie self die vitamien produseer nie, is dit belangrik om genoeg kosse wat vitamien C bevat, te eet om jou immuunstelsel beter onder stres te laat funksioneer. Vitamien C is ook 'n anti-oksidant – dit help om vrye radikale te beheer en die liggaam te herstel.

9) Gedroogde appelkose

Gedroogde appelkose bevat baie magnesium, 'n natuurlike stresverligter. Magnesium is noodsaaklik vir gesonde senuwees en help ook om jou spiere te ontspan. Dit help glo ook om hartkloppings wat deur stres veroorsaak word, te verlaag. Appelkose is ook 'n goeie bron van vitamien C wat jou immuunstelsel 'n hupstoot gee.

10) Volgraan

Volgraan is 'n baie goeie bron van die Vitamien B-kompleks (veral die stresverligter pantoteensuur), minerale (soos kalmerende magnesium, kalium en kalsium), proteïne en natuurlik vesel. Al hierdie bestanddele verlig stres en angs en verbeter terselfdertyd konsentrasie. Volgraan voorsien ook serotonien-produserende koolhidrate wat 'n kalmerende, strelende effek het en ook jou energievlakke konstant hou (deur jou bloedsuikervlakke te stabiliseer).  


- (Birgit Ottermann, Health24, Desember 2010)

(Bronne: http://www.stressfocus.com; Health24 Stress Condition Centre; http://www.askmen.com/; http://www.essortment.com/; http://health.slides.kaboose.com/)
 

Lees verder:
10 einde-van-die-jaar stresverligters
Stres – hoe hanteer jy dit?
Stres en jou dieet

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE